Afrikaans
Afrikaans in die Intermediêre Fase
Afrikaans speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van leerders se taalvaardighede, kreatiwiteit en selfuitdrukking. In die Intermediêre Fase word die vier hoofkomponente van Afrikaans behandel:
Lees en Kyk – Leerders word toegerus met die nodige vaardighede om met begrip te lees en visuele tekste te ontleed.
Luister en Praat – Interaktiewe aktiwiteite help leerders om saam te luister, te kommunikeer en hul kennis oor te dra.
Skryf en Aanbied – Leerders kry die geleentheid om hul gedagtes, emosies en belewenisse op ‘n kreatiewe manier neer te skryf en voor te dra.
Taalstrukture en -Konvensies – Die korrekte gebruik van taal word vasgelê deur middel van grammatika, spelling en sintaksis.
Benadering tot Onderrig
Afrikaans word in die Intermediêre Fase aan die hand van spesifieke uitkomstes onderrig en deurlopend geassesseer. Ons fokus op die vaslegging en uitbreiding van taal en geletterdheid, terwyl leerders se vordering aangeteken word deur prestasie-omskrywings.
By Laerskool Baillie Park strewe ons daarna om leerders toe te rus met lewenslange taalvaardighede en ‘n liefde vir Afrikaans, wat hulle in staat sal stel om hul volle potensiaal te bereik.
English
English in the Intermediate Phase
As outlined in the National Curriculum Statement, the primary focus is on:
- Listening
- Speaking
- Reading
- Writing
- Language structure and conventions
Our teachers are highly qualified and experts in their respective fields. They regularly attend seminars and workshops to ensure they remainup-to-date and fully equipped, providing students with the best education possible.
Wiskunde
Wiskunde in die Intermediêre Fase
Wiskunde-onderrig is ‘n prioriteit by Laerskool Baillie Park, en ons doel is om elke leerling met die beste kennis toe te rus deur middel van kwaliteit onderrig. Hierdie doel kan slegs bereik word deur elke leerder intensief aandag te gee en die unieke behoeftes van elkeen aan te spreek.
Tegnologie soos dataprojektors en internettoegang in elke klas maak lesse interaktief, opwindend en interessant. Die wiskunde-onderwysers werk nou saam om te verseker dat leerlinge nie verwar word deur verskillende onderrigmetodes nie en dat kennis konsekwent uitgebrei word van Graad 4 tot Graad 7.
Wiskunde Kennis en Vaardighede
In ooreenstemming met die Kurrikulum- en Assesserings beleids verklaring (KABV) word die vak in die volgende afdelings verdeel:
- Getalle, Bewerkings en Verwantskappe
- Patrone, Funksies en Algebra
- Ruimte en Vorm (Meetkunde)
- Meting
- Datahantering
NW en Teg
Natuurwetenskap in die Intermediêre Fase
Wetenskap is ‘n sistematiese benadering tot die soek na verduidelikings en die samevoeging van idees wat ons het. In Wetenskap word sekere navorsingsmetodes gebruik en ondersoeke ingestel. Deur die formulering van ‘n hipotese word die ontwerp en uitvoering van eksperimente, die ondersoeke wat onderneem word, en die metodes wat gebruik word, noukeurig ondersoek en gedebatteer voordat dit as geldig aanvaar word. Tegnologie is deur die geskiedenis heen deel van menslike ontwikkeling. Mense het ‘n kombinasie van kennis, vaardighede en beskikbare hulpbronne gebruik om oplossings te ontwikkel wat hul daaglikse behoeftes en begeertes bevredig.
Kurrikulum
Die kurrikulum is daarop gemik om leerders die geleenthede te bied om die idees wat hulle oor die natuur het, saam te stel, sodat hulle sin daarvan kan maak. Daar is DRIE spesifieke doelwitte:
- Leerders moet in staat wees om ondersoeke te voltooi, probleme te analiseer en praktiese prosesse en vaardighede te gebruik in die ontwerp en evaluering van oplossings. Daar is gesindhede en waardes wat die grondslag van hierdie vermoë vorm, soos die respek vir lewende dinge.
- Leerders moet begrip hê van wetenskaplike, tegnologiese en omgewingskennis om hulle in staat te stel om hierdie kennis in nuwe kontekste toe te pas. Ons bou deur onderrig ‘n raamwerk van kennis op, deur verbindings tussen idees en begrippe te maak – dit is anders as om net feite te ken.
- Leerders moet die praktiese gebruike van die Natuurwetenskappe en Tegnologie in die samelewing en die omgewing verstaan, en sodoende waardes ontwikkel wat hulle besorgde en kreatiewe burgers maak.
Benaderingswyse
Ons skep ‘n wetenskaplike atmosfeer in ons klasse, en die keuse van inhoud gee ons die geleentheid om ‘n wye verskeidenheid onderrigmetodes te leer en te gebruik. Ons gebruik wetenskap- en tegnologie-aktiwiteite wat nuuskierigheid, kreatiwiteit en pret aanwakker, en wat ‘n bydrae lewer tot sosiale en gemeenskapsontwikkeling. Verskeie ontwerpvaardighede word ingespan, byvoorbeeld toegang tot en herroep van inligting, waarneming, vergelyking, meting, sortering en klassifikasie, voorspellings, beplanning en uitvoering van ondersoeke, aantekening en interpretasie van inligting, ontwerp en bou van modelle, sowel as die evaluering en verbetering van produkte.
Sosisale Wetenskap
Sosiale Wetenskap in die Intermediêre Fase
Kurrikulum
Die vak Sosiale Wetenskap bestaan uit twee vakinhoude naamlik: Geskiedenis en Geografie. Sosiale Wetenskap se doelwit is om geleenthede vir elke leerder te skep en om met nuwe, sowel as kritiese oë na die wêreld te kyk. Om leerders bekend te stel aan ‘n wêreld anders as waaraan hul gewoond is.
Sosiale Wetenskap is ‘n vak wat leerders help om kennis op te doen van die verlede, die hede en die toekoms.
Benaderingswyse
Leerders word gelei om te kan spekuleer, te redeneer, te selekteer, kreatief te dink, na te vors en om vrae te beantwoord. Dit is ‘n ongelooflike interessante vak wat leerders se persepsie verbreed op elke moontlike gebied.
Lewensvaardigheid
Lewensvaardigheid in die Intermediêre Fase
Lewensvaardighede is ‘n belangrike deel van die kurrikulum en het tot doel om leerders te help om gesonde, verantwoordelike en gebalanseerde lewens te lei. Die fokus is om leerders die nodige vaardighede en kennis aan te leer om hulle in staat te stel om effektief en met selfvertroue in die samelewing te funksioneer.
Kurrikulum
Die kurrikulum is daarop gemik om leerders te help om die uitdagings van die lewe beter te hanteer deur middel van praktiese vaardighede en waardevolle kennis. Daar is DRIE spesifieke doelwitte:
- Leerders moet in staat wees om effektief te kommunikeer, selfkennis en selfbeeld te bou, en die belangrikheid van gesonde verhoudings te verstaan. Dit sluit ook die ontwikkeling van emosionele intelligensie in.
- Leerders moet verantwoordelikheid neem vir hul eie gesondheid en welstand, insluitend fisiese, emosionele en sosiale aspekte. Dit behels die bevordering van gesonde leefstyle, dieet en fisieke aktiwiteit, sowel as die hantering van stres en konflik.
- Leerders moet die nodige vaardighede en kennis ontwikkel om verantwoordelikheid te neem vir hul gemeenskappe, om etiese besluite te neem, en om die samelewing positief te beïnvloed deur aktiewe burgerskap en deelname aan gemeenskapsprojekte.
Benaderingswyse
Die benadering tot Lewensvaardighede onderrig fokus op ‘n praktiese, interaktiewe styl wat leerders betrek. Dit sluit aktiwiteite in wat kommunikasie, samewerking en probleemoplossing bevorder. Ons gebruik ‘n verskeidenheid onderrigmetodes, insluitend groepswerk, besprekings, rolspel en simulasiestudies, om leerders te help om hul vaardighede in ‘n ondersteunende en dinamiese omgewing te ontwikkel.
Lewensvaardighede onderrig sluit nie net akademiese inhoud in nie, maar ook lewenslesse wat help om leerders voor te berei vir die uitdagings van die werklike lewe. Dit sluit die ontwikkeling van etiese waardes, sosiale verantwoordelikheid, en die vermoë om as volwasse, betrokke lede van die samelewing op te tree.